Oor koeitjies, kalfies en rooi hakskene

Geagte Anoniem

Ek kan nie onthou of ek al vir jou gesê het nie, maar ek gaan dit sommer weer sê, want vanaand is dit vir my belangrik dat jy dit weet. Jy sien, vandat ek klein is, sukkel ek met sosiale interaksie. En ek weet dit is die eenvoudigste ding in die lewe om my ouers die skuld te gee, die harde opgroei-jare en so aan, maar ek gaan nie. Of dalk moet ek, maar net gedeeltelik.

Jy sien, ek het nooit regtig geleer hoe om vriende te maak nie. As kind is ek meëdoenloos geboelie, omdat ek altyd anders was, sonder dat ek dit ooit besef het. As reaksie hierop was ek arrogant oor die dinge waarin ek beter was, die verskeie trofeë, geld- en boekpryse wat ek gewen het, selfs die een keer op nasionale vlak. Hierdie besonder kombinasie van geboeliede boelie sou later ‘n groot deel van my volwasse lewe verwoes.

Soos ek sê, ek het nooit regtig geleer hoe om vriende te maak nie, nog minder het ek geleer om, soos die Ingelse sê, social cues te lees. Soos die meisie wat alles in haar vermoë gedoen het dat ek haar moet raaksien wat ek onbewustelik verniel het deur my afsydigheid. Dit is een van die bittermin dinge in my lewe waaroor ek vandag nog regtig spyt is.Die vriende wat ek wel gemaak het, was alles so half per ongeluk, mense het my gebruik, soms misbruik, vir hul eie doeleindes, en ek vermoed van hulle het my bloot jammer gekry.

En van vriende af het ek nog minder geweet van verhoudings. Ek het nooit geleer hoe verhoudings ontwikkel nie, die flankeerdery, die stoute glimlaggies, knipogies en so aan. Daar waar ek my tone in die troebel waters gewaag het, het ek alles om my gestoomroller sonder om te besef wat om my aangaan.

En op universiteit was dinge nie veel anders nie. Die meisies wat hulself voor my neergewerp het, is verwerp soos vuil vadoeke aan ‘n rykmanstafel, of soos gestofeerde lakeie geïgnoreer. En my absolute bombasme het die res verdryf. Daar was wel die een, die een wat my hart nog so halwe klop laat mis wanneer ek aan haar dink, maar dit sou nooit werk nie. En dan was daar die een, my eerste en enigste ernstige verhouding tot op hede, wat ek op my manier wegewerp het toe ek verveeld raak, en al die skuldgevoelens op haar gepak. Maar dis nou maar daarnatoe.

En intussen het my skroewe al losser geraak, het ek al meer van die werklikheid verwyder geraak, en die groot slag. Ek moes na dáárdie plek toe gaan, daar waar al die omies en tannies met die wit jassies en dik brille jou bevoel, bevat, naalde in jou druk, jou kop letterlik laat lees op onbeskryflike maniere en die monster in jou ‘n naam gee. Die allerverskriklikste naam. Daai monster wat agter die grysgroen oë in die spieël wegkruip, die monster wat gevoelens en emosies en vaardighede toesluit en in die diepstes van die see wegwerp.

En toe ontmoet ek jou. Jy met jou borrelende entoesiasme, wat die bokkelbeer in my kom kielie het. Jy met die oë wat uitbundig vir my lag. Jy wat my bors tegelykertyd hol én vol maak. Jy wat my laat skaam voel omdat ek nie weet hoe om met jou te praat nie. En die probleem, jy sien, is dat ek nie weet nie. Ek het nooit geleer hoe jong mans en vrouens mekaar hanteer nie. Wat die flankeerdery, die stoute glimlaggies, knipogies en so meer beteken nie.

Maar nou ja, die aand word laat, en die kinders moet in die bed kom en so aan, en ek wag in angs en bewing vir die Minskipaliteit om die ligte te kom afsit, so ek wens jou ‘n rustige nag toe.

Vriendelike groete

Ek.