Die dag wat jou kop raas

Kyk, oor die algemeen is ek nogal ʼn voorstander van die konsep dat jy nie noodwendig kan kies wat met jou gebeur nie, maar dat jy wel kan kies hoe jy gaan optree. Maar dan is daar dae wat ek dink dis ʼn pot snert. Dae soos vandag. Sien, van tyd tot tyd het ek wat ek geriefliksheidshalwe bloot “episodes” noem. En vandag was een van dáárdie dae.
Maar voor ek verder gaan, moet ek net eers noem dat nie elke “episode” dieselfde is nie, en dat daar nie regtig ʼn patroon aan verbonde is nie. Soms kan dit nie beter met my gaan nie, woeps, EPISODE. Ander dae is ek terneergedruk soos kan kom en daar’s niks.
Vandag was besonder erg gewees. Ek moes iemand help soek vir iets, soos wat dit ek maar my daaglikse brood verdien. Ek soek op die rekenaar en op die rak, kry invoer van persone aan weerskante van my én die tuinman dink nóú is die geleë tyd om met sy blareblaser reg by my kantoorvenster te kom staan. En toe begin my kop raas. Elke liewe geluidjie om my ringel deur my kop, dit voel of ek die mure kan uitklim om daarvan weg te kom. En my klere. Dit voel of ek vanoggend 80-grit skuurpapier aangetrek het. Alles krap, my vel wriemel en ek kriewel om van my vel ontslae te raak. Ek kan nie ʼn glas water drink nie, dit laat my tong tintel en my gesig trek dat die water nie aan my tong raak nie. Die positiewe is dat al die kleure in die tuin vandag besonder helder was.
Met hierdie massiewe aanval op my sintuie raak my kop so mal dat ek werklik geen beheer het oor wat ek moet sê, en nog minder hóé ek dit sê nie. Ek het vandag van verskeie mense vreemde kyke gekry, maar ek kan werklik nie help hoe ek optree nie. Net om daaraan terug te dink, gee my die horries.
Maar, soos ek genoem het, gaan dit nie altyd so nie. Soms gebeur dit dat ek redeloos begin lag en nie weer kan ophou nie. Een jaar het ons by mense oorgeslaap toe ek by twaalfuur die nag net begin lag het. Vir twee ure lank. En maak nie saak wat ek doen nie, ek kan nie ophou nie. Ander kere sal alles om my grys word, of die kleure word soos daardie outydse foto’s wat per hand ingekleur is. Soms gaan my hele lyf aan’t bewe asof dit die middel van die winter is. Soos ek sê, geen episode is ooit dieselfde as ʼn ander nie, daar is geen patroon te bespeur nie. Maar vandag, vandag het my kop behóórlik geraas.
Stuur groete van huis tot huis.