Ouma

[Net voor Erfenisdag, het my ouma gevra dat al haar kinders en kleinkinders iets sal skryf oor wat sy in ons lewe beteken het. Jy sien, haar tyd begin min raak. Ons weet dit. Sy weet dit. Vroeër die week is ons laat weet dat ons asseblief maar moet gou maak, sy wil nie hê sulke dinge moet vir die eerste keer in ‘n begrafnisbrief verskyn nie. Die stuk wat volg, is gebaseer op wat my pen paier gesit het. Dit is hier en daar verander, want mens wil nie sommer persoonlike goed op die interwebs sit nie.]

Daar is soveel wat ek wil sê, soveel goed wat ek onthou, as ek moet begin, waar? Die twee belangrikste lewenswaarhede, wat uitstaan bo die res, het ek by Ouma geleer: Akademiese prestasie bepaal nié wie jy is nie; en Moenie gaan lê nie.

Ouma was nooit hoogsgeleerd nie, weens omstandighede buite haar beheer. Maar een van haar dogters is op ʼn jong ouderdom as diabeet gediagnoseer, so te sê ʼn doodsvonnis in die ‘60’s en ‘70’s op die platteland. Boeke is gelees en bestel, elke moontlike druppeltjie kennis is opgeslurp, want mens gaan lê nie. Elke uitdaging in haar lewe is so aangepak: lees op oor die probleem, maak die nodige veranderings in jou lewenswyse, en gaan aan, want jy mag nie gaan lê nie. As die lewe jou platslaan, sorg dat jy op jou knieë val, want jy kry krag van Bo wanneer jy op jou knieë is, en dit is van jou knieë af makliker om op te staan as om te gaan lê.

En so is die kinders en kleinkinders uit die huis uit, om die wêreld te verower. En elkeen van ons, maak nie saak wat ons vakgebied is nie, kon by Ouma iets leer. Kennis uit handboeke is een ding, maar insig, om daardie kennis te verstaan, toe te pas, en jou eie te maak, is iets heeltemal anders. Wanneer ek gaan kuier het (hopeloos te min, ek weet!), het ons [sommer so terloops] sake bespreek waarmee ek geworstel het, maar bloot ʼn “Het jy al só daaraan gedink?” laat jou besef dat geen matriek- of graadsertifikaat jou ooit wysheid gaan leer nie.

En toe slaan die wêreld mý plat. Ek het verskeie seldsame toestande, wat baie moeilik behandel word, ontwikkel. Van bakboord na stuurboord, medikasie op medikasie, dokter na dokter. Uiteindelik ʼn ligpuntjie: “Dokter Die-en-Daai gaan jou beslis kan help!” Maar dokter Die-en-Daai sê vir my: “Hierdie is jou probleem, niemand sal jou kan help nie.” Al die moontlike opsies wat aan my gestel is, kon behandel word: Iewers is daar net ʼn senuwee wat vasknyp, moontlik ʼn gewassie wat verwyder moet word, verskillende terapieë. Maar nie hierdie nie. Jy moet vir die res van jou lewe so rondloop. Platter op die grond was ek nog nooit, en in daardie geval is daar net een opsie: Bel vir Ouma, sy sal raad hê, want sy is Ouma. “My kind, moenie gaan lê nie.” Ek het nie. Ek het nóg dokters gesien, professore en studente inkluis, en daar was lig!

My lewe sal nooit weer normaal wees nie, ek staan in afgryse vir die handevol pille wat ek vir die res van my lewe moet drink. Maar, ek het nié gaan lê nie.

Dankie Ouma.

JE

1625481_10152614729750396_4358585420147799120_n

‘n Paar jaar gelede, toe dit nog beter gegaan het.

Advertisements