pro bono publico

In die verlede het ek nooit, nie voor, tydens of na die verkiesing, gesê waar ek my kruisie trek nie. Al wat ek te kenne gegee het, was dat ek die verskeie partye se manifeste deurgegaan het om sodoende tot ’n besluit te kom. Ek het nie eens genoem waarna ek spesifiek kyk nie. Hierdie verkiesing is anders. Ek gaan noem wat my kriteria is, en ek gaan ook aandui wie, na my mening, aan hierdie kriteria voldoen.

Wat is my kriteria? Ek gaan nie kyk na “Veg teen korrupsie” nie. Almal belowe dit. Ook nie “Beter dienslewering” nie, weereens omdat almal dit belowe. Doodstraf? Nie ter sprake in plaaslike verkiesings nie. Gedeelde godsdienstige waardes is vir my belangrik, maar dit is nie noodwendig vir ander belangrik nie. Waarna kyk ek dan? Meeste partye se maifeste is negatief, met ander woorde, “Ons gaan nie soos die ANC regeer nie,” met bittermin werklike positiewe beleide, met ander woorde “Hier is hoe ek gaan regeer om nie soos die ANC te wees nie.”

  • Bevordering van moedertaal-onderwys: Die party vir wie ek stem, moet ewe hard baklei vir die reg van die skoolkind wat onder ’n boom in Limpopo skoolgaan, om in Sepedi onderrig te word, as vir mý reg om in Stellenbosch my grad in Afrikaans te doen. Die vaardighede wat my gemeenskap opgebou het, word aan- en toegepas om daardie kind te help.
  • Veg vir minderheidsregte, waar minderheidstatus nie slégs bepaal word deur ’n skeefgetrekte nasionale demografie nie: Hierdie is moeilik om te definieer, maar kom daarop neer dat daar in alle bedrywe/beroepe sekere groepe is wat daardie bedrywe/beroepe domineer, en sodoende veroorsaak dat daar minderhede in die btrokke bedryf is. Wanneer laas het jy ’n fabriek gesien waar die monteerband bedryf word deur ’n meerderheid swart vroue?
  • Baie nou verwant aan die vorige kriterium is die kwessie van meriete en bevoegdheid. Word persone aangestel weens demografiese bepalings, of nie? Het die persoon die nodige kwalifikasies, maar nie die ervaring om die werk te doen nie?
  • Besluitneming word afgewentel na die laagste moontlike vlak: Hierdie behels, onder andere, dat skole se beheerliggame meer bevoegdheid het oor sake soos godsdienstige- en toelatingsbeleide; wyksrade wat self bepaal waar instandhouding van infrastruktuur noodsaaklik is, en dan daardie instandhouding self bestuur.
  • Elke reg gaan gepaard met ’n spesifieke verantwoordelikheid: Die Manifes van Regte van die Grondwet van Suid-Afrika bepaal dat geen persoon ’n reg sodanig mag uitoefen dat dit die regte van ander skend nie. Meeste partye ignoreer doelbewus hieride bepaling, en skree “Regte! Regte!” aan die massas.

Is daar ’n party wat aan hierdie vereistes voldoen? Ja, die VF+. Die VF+ is nié meer ’n party vir verregse Afrikanermans nie, soos sommige beweer nie. Énige persoon wat voel hulle word verontreg deur ander partye, wat hulle agtergrond ook al mag wees, word met ope arms verwelkom. En néé, jy mors nie jou stem deur vir ’n kleiner party te stem nie. In plaaslike verkiesings is daar twee stembriewe: een vir jou wyk, en een vir die partylys. Die wyksbrief werk eenvoudig: die kandidaat met die meeste stemme in die wyk word ’n stadsraadlid. Die partylys is ‘’n bietjie meer ingewikkeld. Die stemme op albei briewe word bymekaargetel, en setels word dan toegedeel volgens die totale aantal stemme wat ’’n spesifieke party op himself verenig. Sodoende kan ‘’n party dalk nie goed doen in die wyk nie, maar die totale aantal stemme verseker hom van goeie verteenwoordiging in die stadsraad. Volgens die jongste meningspeilings gaan die VF+ die magsbalans in Tshwane hou, soos wat die geval saam met ander “kleiner” partye in Kaapstad was in 2006.

Ek wil jou, die leser, dus ernstig aanraai om mooi te gaan kyk na wie jy verkies wil sien.

Groete van huis tot huis.

Advertisements