ex ore infantium et lactantium

So twee weke of wat gelede het ek een Sondag na kerk by vriende gaan koffie drink. Soos dit nou maar gaan tydens sulke geleenthede, het die gesprek ʼn gesprek oor geloof geword, en hoe jy in jou lewe seker kan wees dat jy waarlik glo. En soos dit ook tydens sulke gesprekke gebeur, het iemand uiteindelik iets in die rigting gesê van “Mens moenie te veel redeneer nie, jy moet net glo soos ʼn kind.” Vra maar meeste mense wat so iets sê wat hulle hiermee sou bedoel, kom die antwoord daarop neer dat jy maar net moet glo dat jy gered is, en dis genoeg. Ek weet nie van julle nie, maar die kinders, sê maar so tussen 3 en 6 jaar, wat ek ken, aanvaar nie maar net klakkeloos alles wat jy vir hulle sê nie. Nee, daar is ʼn proses waar hulle deurgaan om tot op hierdie punt te kom, en ek is van mening dat my en jou geloof deur dieselfde prosesse moet gaan. Ek gaan hierdie proses aan die hand van drie temas bespreek, Naamlik “Hoekom?”, Saam meet, en “weet Pappa wat?”

“Hoekom?”

Dink terug aan kinders in die ouderdomsgroep wat ek hierbo genoem het. Hoeveel keer uit tien sal die kind, amper nog voor jy klaar gepraat het, hierdie vraag vra. Vir my lê die antwoord iewers tussen nege en tien. En jy kan nou maar verduidelik soos jy wil, maar “Hoekom?” lê net agter die bossie, stert kwispellend, reg om jou te bespring. Kinders is nuuskierig. Hulle wil nie net weet dat iets is nie, maar hoekom dit so is. Hulle begin op hierdie ouderdom hul abstrakte denke, oorsaak en gevolg, verwantskappe en verbintenisse ontwikkel en is nie altyd meer tevrede met “Omdat ek so sê nie.” Hoe kan ʼn kind iets glo as niemand vir hom verduidelik wát om te glo nie?

Saam meet

In hierdie tema gaan ons kyk na hoe die kind dit wat hy geleer het deur heeltyd vrae te vra, vaslê. Dink aan ʼn kind wat by sy oupa gaan kuier. Oupa spandeer ʼn groot deel van sy tyd om in sy werkswinkel houtwerk te doen. Aanvanklik gaan die kind nog steeds vrae vra, maar hy kom op ʼn stadium wat hy vir sy oupa vra of hy ook mag saam meet, lyntjies trek en spykers inkap. Hierdie is dan die tweede proses waardeur kinders leer. Die kind leer deur te doen. Alhoewel sy verbeelding nog ʼn baie groot rol speel, wil hy nou sy kennis begin toepas. Hy wil deur te eksperimenteer uitvind of dit wat hy geleer het, geldig is. Kundiges in die onderwys sê dat vrye spel uiters waardevol is vir kleuters en jong kinders, juis omdat hulle nou hul abstrakte denke en sake soos oorsaak en gevolg sélf kan begin toepas.

“Weet Pappa wat?”

Laat die middag gaan dieselfde seuntjie huis toe, en wag vir sy pa. Sy pa het skaars gegroet, dan borrel dit uit: “Weet Pappa wat het ek en Oupa vandag gedoen?” Hierdie is die derde proses waardeur kinders gaan. Hulle is opgewonde oor wat hulle geleer het, en wil vir almal daarvan vertel. En wanneer hy daardie naweek saam met sy pa houtwerk doen, gaan hy sy pa kort-kort aanspreek, want Oupa se manier is beter. Die kind kan dus al onderskeid tref tussen verskillende maniere om dieselfde ding te doen, en is gretig om hierdie kennis toe te pas.

Samevatting

Die punt waarby ek uiteindelik wil uitkom is dit: Ja, ons moet glo soos kinders. Ja, daar is sake wat ons nie met ons verstand kan omvat nie. Maar nee, om alles wat jou dominee/pastoor/selgroep-leier sommer maar net vir soetkoek op te eet, mis ook nie reg nie. Ek hoop dat dit duidelik is dat ʼn kinderlike geloof nie maar net ʼn blote aanvaarding is nie, maar dat ʼn kind deur verskeie prosesse gaan om te leer, onder andere deur vrae te vra, deur sy kennis toe te pas en laastens vir almal rondom hom te vertel van wat hy geleer het.

En ek vermoed juis hierdie laaste aspek, is waar meeste van ons, ek inkluis, die maklikste struikel. Ons is bang om oor ons geloof te praat, want dalk gee ons aanstoot. Ons is bang om oor ons geloof te praat, want dis nie hoe ons dit in ons kerk doen nie.

As slot sit ek twee belangrike Bybelsverse by wat duidelik aantoon dat ons verstand ʼn noodsaaklike onderdeel van ons geloof is. En hoe kry ek my verstand op ʼn beter manier by my geloof betrokke as deur te glo soos ʼn kind!

 

Wanneer Christus die Grootste Gebod behandel, gebruik hy die woorde “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Matt 22:37). Let asseblief net mooi daarop dat die aanhalingstekens wat in die 1983 Afrikaanse Vertaling by hierdie vers gebruik word, nie in die oorspronklike Grieks voorkom nie. Ons kan dus nie aflei dat een deel belangriker is as ʼn ander nie.

Wanneer Paulus oor die geloof praat, gebruik hy, volgens die 1933/53 Afrikaanse Vertaling die woorde “… redelike godsdiens.” (Romeine 12:1)

 

Stuur groete van huis tot huis.

Advertisements

antiqua prudentia

Gisteraand vra iemand my wat ek in die laaste 32 jaar geleer het. Ek moes ʼn paar minute dink voor ek kon antwoord, en ek het dit goedgedink om dit hier met almal te deel. Ek skryf nou nie alles presies neer soos ek dit gesê het nie, en ook nie in dieselfde volgorde nie, maar ek hoop tog dat ek die kern van die gesprek akkuraat sal kan oordra. Ook wil ek noem dat vir elke vinger wat ek wys, wys ek dieselfde vinger ten minste dubbeld na myself terug. So, wat het ek geleer?

Wysheid en geleerdheid is nie noodwendig dieselfde ding nie

Soos ek reeds vantevore genoem het, is een van die persone wat ek die meeste respekteer, my Ouma. Sy het nie eens matriek nie, wat nog te sê ʼn universiteitsgraad? Maar sy het steeds geweldige kennis, en in ʼn familie wat soms maar gesukkel het met gesondheid, het sy elke stukkie kennis opgeslurp wat sy kon. Meeste van haar kinders, en ʼn klomp van ons kleinkinders, is geleerde mense, en tog kan sy op almal van ons se gebied ʼn sinvolle bydrae lewer tot elke gesprek. Soos iemand eens gesê het: “Kennis is om te weet ʼn tamatie is ʼn vrug, maar Wysheid is om dit nie ʼn vrugteslaai te gebruik nie.”

Dis nie lewensnoodsaaklik om die nuutste van alles te hê nie

Sommige van die grootste rolspelers in die tegnologiebedryf, Soos Apple, Samsung, Google en Microsoft, het bykans elke jaar ʼn “nuwe” produk op die mark, en baie mense sien dit as skandalig as hulle nie die heel nuutste iPhone het nie, al gebruik hulle nie ʼn kwart van die beskikbare funksies nie. En meeste van die “nuwe” funksies is in elk geval net estetiese- of kapasiteitsverfyning. Meeste van ons is so vasgevang in die konsep “Nuwer is Beter”, dat ons gewillig is om al hoe meer belaglike en uitspattige nuutjies sal koop, net sodat ons daarmee kan spog, soos baie mooi hier verwoord word (Baie dankie Maankind vir hierdie artikel!).

Met al die tegnologie tot ons beskikking, is meeste van ons kommunikasie onpersoonlik

Tegnologie maak ons lewe darem maklik. Ek kan in my sitkamer in Pretoria sit, en ʼn gesprek van aangesig tot aangesig hê met my broer in George of ʼn ou skoolvriend in Australië. As ek wil weet wanneer verjaar my beste vriend, kan ek vinnig op Facebook gaan kyk. Ek kan een boodskap van my foon af stuur en honderde mense kry dit gelyk. Wanneer ek iemand sterkte wil toewens, gee Google vir my binne sekondes ʼn gepaste prentjie met gepaargaande mooi boodskappie. Maar maak dit nie die lewe te maklik nie? Ek hoef amper niks meer self te doen nie, omdat ek tegnologie in my broeksak ronddra wat alles namens my kan doen. Terwyl ons oor hierdie onderwerp gesels het, het my vriend se skoonpa hom gebel om hom geluk te wens dat hy keuring vir sy MBA gekry het. Al kon hy dit met ʼn Whatsapp-boodskap kon doen. Maar hy het doelbewus die besluit geneem om hom eerder te bel, sodat hulle mekaar se opwinding persoonlik kon deel. Daar is selfs bababedjies beskikbaar wat vanself die baba kan “troos” deur te wieg, of ʼn opname van ʼn hartklop te speel. Hoe belaglik is dit nie dat ons ouers en kinders ontneem van die voorreg om mekaar te koester?

Maar hierdie onpersoonlikheid oorheers nie slegs ons persoonlike lewe nie, maar ook ons werkslewe. Wanneer ek by iemand in ʼn ander afdeling inligting wil kry, stuur ek vinning ʼn e-pos. Ek verstaan heeltemal die doel van e-pos om ʼn sogenaamde paper-trail te skep, maar andersyds beskou is dit baiekeer makliker om jou probleem telefonies op te los. Ek stuur wel ʼn e-pos, maar ek volg dit ook telefonies op. ʼn Vriend van my het die gewoonte aangeleer om vir al die nuwe personeel in sy span ʼn handgeskrewe inligtingstuk te gee. Hy doen regtig moeite hiermee, en probeer om elkeen se brief persoonlik te maak. Dit sou vir hom baie makliker gewees het om ʼn Templaat in Word op te stel. Maar hy wil hê sy spanlede moet besef dat hy persoonlik betrokke wil wees in hul werkslewe, en hoe kan dit beter gedoen word as deur vir hulle elkeen ʼn handgeskrewe brief te gee?

Op die internet is elkeen ʼn kenner, party mense maak sakke vol geld sonder om experts te wees

Gestel jy voel olik. By baie van ons is die eerste reaksie om gou op die internet te kyk wat my simptome beteken. En dan vir die dokter te wil voorsê wat nou eintlik fout is met jou. En wanneer jou kar ʼn snaakse geluid maak, doen jy dieselfde. Wil jy jou sitkamer en kombuis oordoen? Gaan kyk op die internet. Wil jy weet wat om met jou kind se vieslike hoes te doen? Gaan kyk op die internet. Die probleem hiermee is dat die antwoorde wat jy kry, nie noodwendig van kenners in die spesifieke veld is nie, maar dat dit ʼn blogger kan wees wat sakke vol geld maak deur hul beperkte kennis so-te-sê verniet aan jou te gee. Gaan kyk maar op jou gunsteling houtwerk-blog hoeveel advertensies daar verskyn. Groot maatskappy plaas advertensies op blogs omdat dit goedkoper, en soms meer effektief, is as tradisionele bemarking. Hiermee wil ek nie sê dat alle bloggers gewetenslose geldwolwe is nie, maar dat jy gerus alles wat jy op die internet lees, selfs hierdie inskrywing, met ʼn ordentlike knip sout moet behandel.

Elkeen van ons hanteer ons persoonlike probleme op ʼn ander manier, en dit dryf ons soms die mure uit

Ek praat nie graag oor my probleme nie. Ek is grootgemaak met die idee dat jou probleem nie saak maak nie, dat niemand regtig oor jou probleem omgee nie, dat daar altyd iemand is wat slegter daaraan toe is en “As jy nie nou ophou kerm nie, gee ek jou ʼn rede om te kerm [oftewel ʼn pakslae]!” Ek wil jou nie opsaal met my probleme nie, want jy het jou eie. Ek raak soms kortaf as iemand aan my karring oor hoekom ek met opgeblaasde wange sit. Los my vervlaks net uit!

ʼn Vriend van my, ʼn predikantskind, se lewe is van kindsbeen af deursuur met die idee dat elkeen se probleme saak maak, en dat die enigste manier om dit te hanteer is om daaroor te praat. As hy sien ek lyk ongelukkig, sal hy aanhou vra wat fout is, en hoe meer ek sê dat ek nie daaroor wil praat nie, hoe meer dring hy aan om te weet. Uiteenlopende maniere om probleme te hanteer, en ʼn wenresep vir kopstamp daarby!

Die jare word nie korter hoe ouer jy word nie, dit voel maar net so, maar dis nie so eenvoudig nie.

Die afgelope paar jaar voel dit vir my dat dit Kersfees en Nuwejaar is skaars verby, dan is dit maar weer sulke tyd. Die jaar gaan so vinnig verby, jy kom nie naastenby by alles uit waarby jy wou uitkom nie. Gelowiges sal sê dat God tyd en ruimte geskep het, en dat hy elk op so manier geskep het, dat hy tyd geskep het om sekere reëls en natuurwette te volg. Fisici wat met sake soos tyd en ruimte werk, sê vir ons dat tyd, behalwe onder besondere omstandighede, oral en altyd dieselfde is. En dan is daar die gesprekke om die bosvelvuur waar elkeen met ʼn bier of brandewyn in die hand filosofies (filosopies[?]) raak oor relatiwiteit en Einstein en dergelike dinge. Iemand het dit eenkeer vir my verduidelik dat wanneer jy tien jaar oud is, neem een jaar ʼn tiende van jou lewe in beslag. Wanneer jy dertig is, is een jaar maar ʼn dertigste van jou lewe. Soos jy dan ouer raak, word elke jaar wat verbygaan net ʼn al kleiner wordende deel van jou totale lewenspan. Mens kan dit ook verduidelik aan die hand van ʼn rolletjie toiletpapier. Wanneer die rolletjie nuut is, en jy rol vier velletjies af, het die rolletjie self nie eens een omwenteling voltooi nie. Wanneer die rolletjie nader aan sy einde is, rol dit dalk twee en ʼn half omwentelinge vir dieselfde vier velletjies toiletpapier.

Goeie vriende trap mekaar se drumpels nie deur nie, maar ons moet darem af en toe spore in mekaar se huis trap

As goeie vriende mekaar elke dag sien, is die moontlikheid groot dat mens so gewoond aan mekaar raak dat jy later niks meer het om vir mekaar te sê nie. Dit bring die gevaar mee dat jy die vriendskap verloor. Maar aan die ander kant is daar in ons gejaagde lewens van vandag ook die gevaar dat ons mekaar glad nie sien nie. Ons maak nie doelbewus tyd om by mekaar uit te kom nie, al woon ons binne stapafstand van mekaar. Daar is altyd iets wat “belangriker” is as ons vriende en familie. En as jy oë uitvee het nog ʼn jaar verbygegaan waar ons mekaar maar net ʼn paar keer rakelings gesien het. Ek besef dat hierdie die saak op hierdie lys is waaraan ek die hardste moet werk.

Dis makliker om van jou knieë af op te staan as van jou gesig af

Die lewe gaan jou slaan, hy gaan jou hard slaan en probeer platslaan. Maar wanneer jy val, keer met jou hande dat jy net tot op jou knieë val. Op jou knieë voor die Vader, voor wie jy alles kan uithuil, wie jy kan smeek om jou trane op te droog, wat jou die krag sal gee om te kan opstaan. En in daardie tye wat die lewe dit regkry om jou op jou gesig te laat val, stoot jouself terug tot op jou knieë, en Hy sal in sy eindelose barmhartigheid sy hand uitsteek om jou op te tel.

 

Stuur groete van huis tot huis.