Rugprobleme

(Hierdie stuk is geskryf ongeveer ‘n maand na my rugoperasie in 2007. Die paadjie van daar tot hier was nie maklik nie, en ek het baie dinge van myself ondertussen geleer. EK maak dit nou bekend, omdat ek meer vrymoedigheid het om iets so privaat met die wêreld te deel. Ek gaan die afgelope paar jaar deur ‘n soortgelyke worsteling wat heeltemal anders is. Mense van wie ek dit die nodigste het, verstaan nie waardeur ek gaan nie, en ander buig agteroor om my te help. Die lewe is nie maklik nie, maar God gee altyd uitkoms.)

 

Dink ’n bietjie vir jouself in. Wat sal jy doen as jy weet die moontlikheid bestaan dat jy van narkotiese verdowing kan wakker word en nie weer sal kan loop nie? En verder die sekere wete dat as jy nie instem tot ’n operasie nie, jy in elk geval nie veel langer sal kan loop nie? En om dit meer afgryslik te maak, dink daaraan dat jy maar een en twintig jaar oud is…

 

Sal jy saam met die psalmdigter die weëklaag laat opgaan: “My God, my God, waarom het U my verlaat, vêr van my hulp, van die woorde van my gebrul?”(Psalm 2:2, 1953 vertaling) Of sal jy saam met dieselfde psalmdigter, en ook Christus, sê: “In U hande geek my gees oor”? (Psalm 31:6, Lukas 23: 46, 1953 vertaling.)

 

Dit is waardeur ek moes worstel die laaste tyd. Ongeveer ’n maand voor my een en twintigste verjaardag is die vermoede bevestig dat ek ‘n operasie in my lae rug moes ondergaan. Ek het toe reeds met krukke geloop, gesukkel om uit ’n stoel op te staan, gesukkel met die beheer van liggaamsfunksies…

 

Minder as ’n maand na my verjaardag is ek geöpereer. Twee dae na die operasie, waarin daar aan twee intervertebrale skyfies gewerk is het ek opgestaan en geloop. Sonder krukke, ’n kierie of enige menslike hulp. Ek kon vir die eerste keer in maande badkamer toe gaan wanneer dit my pas, iets wat meeste mense as vanselfsprekend aanvaar.

 

Al wat nie dadelik weggegaan het nie, was die medikasie. Weens die pyn en algemene ongemak van die vorige ses maande het ek gesukkel om te slaap. My pynmedikasie, aan die ander kant, was sterk hoofpynpille, in stede van iets wat ‘n olifant sou uitskop voor die operasie.

 

Wat my wel gepla het is die ondersteuning. Mense van wie ek dit die nodigste gehad het, het hul ondersteuning onttrek, selfs geweier om te glo dat ek werklik ernstige mediese ingryping benodig. Maar tog was daar mense wat my ondersteun het, ware Christenliefde betoon het, van wie ek dit die minste verwag het. So ’n situasie laat jou gou besef wie regtig omgee, wie regtig jou vriend is…

 

Meer as dit, egter, is dat dit my onderliggende neighing tot depressie vererger het. Geen person wil op hierdie ouderdom deur so iets gaan nie. Ek sal geen person die moeilike tyd toewens wat gepaard gaan met rugprobleme nie. Die gebrek aan ondersteuning, die onsekerheid, die psigologiese worsteling, dit alles is ’n nagmerrie sonder hoop van ontsnapping. Voeg daarby dat ek ’n jaar van universiteit effektief moet prysgee, waar ek reeds, by wyse van spreke, ’n jaar agter is. Die feit dat my ma op my een en twintigste verjaardag, ’n dag wat veronderstel is om vreugdevol te wees, ’n beroerte gehad het, het dinge nie verbeter nie.

 

Maar tog, God is groot! Hy is my Herder, Hy sal vir my sorg. Hy gebruik dit alles om vir my, sondaar, nietige mens, hoe life Hy my het.Ek moet net my sorge in sy vertroostende hande plaas, en nie twyfel aan sy Almag of Alwetendheid nie. Deur alles kan ek nie anders as om Hom te prys nie, sy Naam my hele lewe lank loof nie. Prys die Heer!

 

Groete van huis tot huis.

Advertisements