Rooktyd (Deel 1)

Halfvier in die oggend begin die dag. Die ligte word aangesit, almal word op ’n streep wakkergeskud en die stemme weergalm in die gang: “Wake up! Wake up! Everybody up!” Geen normale mens wil so wakker word nie. Maar ek is nie normaal nie. Ek is in ’n psigiatriese hospitaal, ’n plek waar die normale samelewingsreëls nie geld nie.

Soos die “pasiënte” wakker word, gaan staan hulle in die gang. Net daar waar jy staan, moet jy jou klere uittrek en op ’n hoop gooi. (Nie dat dit jou eie klere is nie. Jy kry so groen-en-wit gestreepte pajamapakkie om aan trek.) Agtien manne, sommige skaamteloos, ander met die hande gebak oor die nodigste, poedelnakend kaal en wag in ’n ry. Vettes, maeres, langes, kortes, grotes en kleintjies deurmekaar, oppad om te gaan stort. By die badkamerdeur kry jy ’n handvol goedkoop sjampoe waarmee hulle verwag jy moet van toontjie tot kroontjie was, en ’n ou handdoek. Die paar wit ouens staan agter in die ry, dan hoef jy nie ’n stort met iemand te deel nie. Die water is net duskant kokend, en dis moeilik om die krane te manipuleer met net een hand. Maak nie saak hoe vining jy stort nie, jy kom kreefrooi daar uit. En maak nie saak hoeveel manne daar is nie, of hoe lank elkeen stort nie, daar is genoeg warm water vir almal. Droog vining af, kam jou hare met ’n kam wat daar lê vir almal om te gebruik, ’n spuit van ’n gewilde, onwelriekende anti-perspirant en dan na die linnekamer. Jy hoop die stel klere wat jy kry, is groot genoeg om nie te skaaf nie. Ek het nooit gekry wat te groot is nie, net wat te klein is, en net drie keer wat my size was. Terug kamer toe, waar jy jou tandeborsel gryp (weerens nie jou eie nie) en ’n groot bol tandepaste by die ander badkamer kry. Dan gaan bêre jy jou tandeborsel, maak jou bed op (netjies, sonder plooie en punte wat uitsteek, anders moet jy dit oordoen) en trek jou skoene aan (jou eie, maar sonder veters.)

Ongeveer vyfuur sit almal vir mekaar en kyk in die TV-kamer. Niemand praat nie, sit net in doodse stilte en kyk vir die person oorkant jou (die TV-kamer se stoele is teen mure, met die TV gemonteer teen die een muur.) Halfses word die TV aangesit, en almal kyk een of ander landbouprogram. Sesuur word ons geroep vir brood en koffie. Twee snye brood, twee pakkies botter en twee pakkies konfyt met die warmste, soetste koffie wat jy jou kan indink. Maar eers moet almal buite die deur staan, dan wys die staf iemand aan wat bid. En daar moet in Afrikaans of Engels gebid word, anders doen jy dit oor.

Kwart voor sewe kom die dagstaf in. Sewe-uur word die TV afgesit vir die oordrag. Die suster in beheer van die nagskof (wat noem mens ’n manlike suster, in elk geval? Die nagskof is net mans) gaan staan voor elke pasiënt saam met die suster in beheer van die dagskof (altyd ’n vrou) en ’n paar ander lede van die dagstaf, en doen verslag. Naam en van, diagnose (in kodes), optrede deur die nag, hoe jy geslaap het, en sake waaraan moontlik deur die dag aandag gegee moet word. Dan volg opening. Een van die verpleegsters lees uit die Bybel, an dan word daar ’n paar geestelike liedere gesing (Tswana, Sotho, ek weet nie) en laastens “Our Father who art in Heaven”, wat baie meer plegtig klink as die Onse Vader. Dieselfde pasiënt word elke dag gevra om te bid.

Dan is “orientation.” Hier moet elkeen sê wat is sy naam, waarvoor hy opgeneem is, die dag en datum, en dan moet hy enige verdure vrae antwoord wat die suster stel. “Hoor jy stemme? Sien jy visioene? Dink jy jy het magte en vermoëns wat ander nie het nie?” Tussendeur word ons twee-twee geroep vir ‘pomp’, kode vir bloeddruk en suiker toets. Tydens “orientation” word afgekondig watter pasiënte die dokter, psigiater, sielkundige of sosiale werker moet sien.

Nege-uur kan nie gou genoeg aanbreek nie, want dis ontbyttyd! Weer in die ry gaan staan en bid, dan gaan sit en eet. Roereiers, spek roosterbroed konfyt, botter, semelpap met soveel melk en suiker as wat jy wil hê. Die enigste problem is, jy moet met alles met ’n lepel eet en jou brood smeer. Geen messe of vurke word in die saal toegelaat nie. En daar is nie genoeg lepels vir almal nie, drie lepels vir elke vier pasiënte, so jy sorg maar dat jy voor in die ry staan, sodat jy ’n skoon lepel kry. Na ontbyt, gaan wag almal voor die stoortjie se deur. Soms kom die staf vining, maar sommige van hulle is sadiste wat ons vir ’n ewigheid laat wag. Hoekom staan ons hier? Ons wag vir ons rookgoed! Elkeen wat sigarette of twak het, se naam word geroep, en dan ontvang jy jou rookgoed vir die sessie: twee sigarette, een zol se twak, of een stopsel vir my pyp. Almal moet een aansteker deel. Dan drom ons onrustig by die buitedeur saam, terwyl die res nog wag. UIteindelik klaar. Ons gaan in ’n kampie in, vyf meter by vyf meter, waar daar twee bome, drie sementbankies en ’n klomp plastiekstoele is.

Almal sit by hulle vriende, behalwe ek. Die res van die mense hier is óf mal, óf te gedrug om enige betekenisvolle geselskap te wees. En net ek sit in die son. Nie lank nie, of hier val ’n skadu oor my. “Gee my skyf.” Ek ignoreer hom. “Gee my skyf.” Nie asseblief nie, niks. Net so. “Jy weet ek sê elke dag nee, hoekom vra jy nog?” Ek wil nie eens vir hom kyk nie. “Maar ek vra skyf.” My humeur begin kort raak, ek verkies om in stilte rook. “Fokof, man! Ek het gister gesien hoe bring hulle vir jou twak! En ek het gehoor hoe roep staf net voor my jóú naam! Toe, voetsek!” Hy los my nou genadiglik in vrede. Nie lank nie, ef die volgende een kom. Selfde storie, hy vra ten minste mooier. Maar my twak is min, ek weet nie wanneer gaan ek nog kan koop nie, so ek deel nie. Na ’n halfuur moet ons ingaan. Almal vryf hulle stompies uit en trap dit in die grond in, anders tel iemand die los twakkies op en rook dit in toiletpapier in die saal. Dan’s almal weer in die moeilikheid.

(Oor die volgende ruk gaan ek ‘n multi-deel storie plaas van my indrukke van ‘n psigiatriese hospitaal. Episodes uit twee afsonderlike verblyfperiodes van drie weke elk word gekondenseer in een storie wat oor ‘n paar dae afspeel. Hier en daar het ek ‘n bietjie aangedik.)

Advertisements