Gedagtes oor “Rooktyd”

Hierdie is nie deel van die reeks “Rooktyd” nie, maar is ’n antwoord op kommentaar wat ek gekry het oor die reeks.

Een van my vriende het, nadat hy “Rooktyd” gelees het, gevra hoekom ek nie besoektye as ’n hoogtepunt beskou het nie. My onmiddelikke antwoord was dat dit goed én sleg was om besoekers te ontvang. Ek kon nie dadelik vir hom verduidelik hoekom dit so is nie. Ek het daaroor nagedink, en die volgende was die gevolg van my nadenke:

Hoewel daar pasiënte was wat daagliks besoekers gekry het, was daar pasiënte wat geen besoekers tydens hul verblyf gekry het nie. Ek het omtrent elke derde of vierde dag besoekers gehad. Die wat wél besoekers ontvang het, was meestal die wit- en kleurlingmans. Dink ’n bietjie daaraan. Jy sit vir drie weke in ’n plek wat jou soos ’n kind behandel, en jou familie en vriende doen nie moeite om jou te besoek nie. Een rede daarvoor is afstand. Die hospitaal bedien die hele streek, so daar is pasiënte van by die 100 kilometer ver. Dit is egter nie ’n verskoning nie. Omdat dit ’n staatshospitaal is, is daar amper daagliks bussies wat van verskeie hospitale soontoe ry, en as jy vooraf reel, mag besoekers saam met die bussie ry. Dit is egter meer apatie as iets anders. Die families verstaan nie altyd deur watse hel jy daar gaan nie, of hulle dink dit is goed vir jou. Hulle het jou letterlik vir drie weke afgeskryf. Mens kan die jaloesie sien as jy terugkom in die saal na besoektyd, en jou besoekers het lekkergoed, koeldrank, geld en sigarette of tabak saamgebring. Dit is een negatiewe punt.

Om die insident waarna my vriend verwys het, toe ’n hele groep vriende my besoek het, reg te verstaan, is daar ’n bietjie konteks nodig. Kort voor ek die tweede keer opgeneem is, is ek verkies tot die bestuurskommitee wat ’n kamp moes reel vir die daaropvolgende Januarie. ’n paar dae nadat ek opgeneem is, het meeste van die ander bestuurslede my kom besoek. My vriend was die voorsitter van die kampbestuur. Dit het my baie opgebeur dat hulle vir my kom kuier het, maar die besoek was wel ook negatief, en om die volgende redes:
• Ek het skuldig gevoel dat hulle my werk moes doen. My portefeulje was bemarking, en meeste van die bemarking van die kamp moes afgehandel word in die tyd wat ek in die hospitaal was.
• Mens is nie gewoond aan soveel mense wat gelyk met jou wil praat en vrae vra nie. Jy word vining deel van ’n groepie wat drie of ver pasiënte bevat. Jy sit saam met hulle aan tafel, gesels omtrent net met hulle tydens rooktyd en as jy in die TV-kamer sit. Ek het verdwaas en oorweldig gevoel met agt mense wat net op my fokus.
• In die studentegemeenskap waarvan ek op daardie stadium deel was, is daar ’n geweldige stigma verbonde aan inwoners van die psigiatriese hospitaal. Ek wou nie hê my vriende moes daardie stigma aan my koppel nie.

En daar het julle dit. ’n paar van die redes waarom ek nie besoektyd as ’n hoogtepunt beskou het nie.

Groete van huis tot huis.

Advertisements

Rooktyd (Deel 3)

(Hierdie is die laaste inskrywing in die reeks oor my verblyf in n psigiatriese hospitaal. Dit was vir my ‘n voorreg om dit met julle te kon deel.)

Daar hét goeie dinge ook gebeur, voordat julle begin dink ek onthou net die slegte dinge. Ons het gewoonlik op Saterdae en Sondae gaan stap, omdat daar nie ’n program in die middag was nie. Dan het die staf ons rookgoed saamgevat, en ons kon rook soveel ons wou. (Julle wonder seker hoekom ek so klem lê op rook? Rook het, ten spyte van alles wat jou dokter sê en waarmee jy in die media gebombardeer word, wel goeie aspekte. Behalwe vir die verligting van onttrekkingssimptome, help nikotien om die simptome van sommige psigiatriese toestande te verlig. Verskeie psigiaters het al vir my gesê dat ek liefs nie moet ophou rook nie, aangesien die kans baie groot is dat ek ’n “relapse” gaan hê. En dit beteken ek moet weer vir minstens drie weke opgeneem word.) Ons het reg rondom die terrain geloop, ongeveer twee en ’n half kilometer. Die perseel is opgerig op die rand van die dorp, en aan twee kante is daar ’n wildsreservaat. Ons het gereeld bokkies en voëls gesien, en dit beur ’n mens dadelik op.

Omtrent ’n week nadat ek die eerste keer opgeneem is, is daar vir ons ’n braai gehou een Woensdagmiddag. Daar is een van daardie waterglybane, wat werk soos ’n springkasteel, opgerig in die kuier-area (daar is koeltebome en bankies waar jy saam met besoekers kan gaan sit) tussen die mans- en damessale. Ons kon die hele middag kuier met die pasiënte van die ander manssaal en die twee damessale. Daar was ’n groot bak vrugte, en ’n drom met botteltjies sap in yswater, waarvan ons kon vat soveel as wat ons wou hê. En laat die middag, toe’s die steaks klaar gebraai, nie te rou nie, en nie te gaar nie. Net reg. En daar was slaai en pap, soos net Transvalers kan. Al wat sleg was, was dat ons braaivleis met lepels moes prober eet. Maar dis waarvoor hande daar is!

Die hoogtepunt was egter toe ek die tweede keer opgeneem is. Om een of ander rede het ek begin sukkel om my oë oop te maak, en daar is aanvanklik gedink dit is ’n newe-effek van my medikasie. My dosis is gehalveer, met die hoop dat dit die problem sou opklaar. Dit het nie. Binne ’n week het ek ’n relapse gehad, en moes ’n tweede keer opgeneem word. Daar is vasgestel dat dit nie die medikasie is nie, maar een of ander vae neurologiese toestand wat veroorsaak word deur my siekte. Dit kom egter nie baie voor nie, so daar is maar min navorsing gedoen oor die oorsake en behandeling daarvan. Dit is nou nog nie opgeklaar nie, hoewel dit al beter is as wat dit was. Uit suiwer moedeloosheid, frustrasie, noem dit wat jy wil, het ek een rooktyd baie vertroosting nodig gehad. Ek het so op die grond gesit, en “Amazing Grace” begin sing. Al is ek Gereformeerd, is dit vir my een van die mooiste, troosrykste en inspirerendste liedere wat nog ooit geskryf is.

Toe ek die eerste vers klaar gesing het, kom een van die ouer swart pasiënte by my sit. Hy het gevra dat ek dit weer moet sing, maar die slag die hele lied. Hy was nog altyd vriendelik met my, en het my behoefte om alleen te wees gerespekteer, so ek het besluit om maar weer te sing. En hier begin die karnallie saamsing! Vir ’n halwe oomblik was ek kwaad, maar het dadelik besef hy het ook die vertroosting nodig. As jy al ooit saam met ’n swart man gesing het, sal jy weet hy sing nie presies dieslfde note as jy nie. Sy instink is om met jou te harmoniseer, en daardie instinktiewe harmonisering kan jy nie aanleer nie. En dieselfde instink sê vir hom wanneer jy harder en sagter gaan sing, vinniger of stadiger, as jy ’n noot gaan aanhou, en hy gaan saam met jou sonder dat jy dit agterkom.

Nie lank nie, of ek hoor nog ’n paar stemme wat saamsing. Ek sing tenoor, en ek kan hoog gaan, en die ou man het ’n falsetto gesing, dan was daar nog ’n tenoor wat nie heeltemal so hoog was soos ek nie, en twee verskillende basse, met elkeen wat uniek met my harmoniseer. En toe besluit ek: Dis nou, of nooit! En ek besluit om die eerste vers weer te sing, en met ’n bang uit te gaan. Ek het die volumeknop op elf gedraai, en die wat my ken wéét, ek kon op daardie stadium nog baie hard sing, sonder om kwaliteit in te boet. En ons vyf ouens het daai eerste vers van Amazing Grace gesing met die krane vol oop. Sonder om te oefen, sonder beplanning, sonder bladmusiek, het vyf mansstemme daardie dag saamgesing, met ’n dinamiek, harmonie en suiwerheid wat enige sêrafrigter weer in God sal laat glo. En toe was daar stilte. Ek was op die kruin van ’n golf. Só het ek maar bitter min in my lewe gesing. Gewoonlik moet ek in kore sagter sing omdat die res van die tenore nie kan byhou nie. Jy kon die stilte vir omtrent vyf sekondes voel. En toe cheer hulle ons! Die vrouens oorkant die kuier-area, die manne om ons, selfs die manne in die ander saal. Een van die staf, so nors ou, het na my toe gekom, en ek kon die trane in sy stem hoor toe hy my aan die arm vat en sê: “Thank you! That was beautiful!”

Ons het nie weer saam gesing nie. Ek weet nou nog nie wat is die vier mans wat saam met my gesing het, se name nie. Hierdie oomblik sal my my lewe lank bybly, en ek dank God dat ek die gelentheid gehad het om dit te beleef.

Groete van huis tot huis.

Rooktyd (Deel 2)

(Oor die volgende ruk gaan ek ‘n multi-deel storie plaas van my indrukke van ‘n psigiatriese hospitaal. Episodes uit twee afsonderlike verblyfperiodes van drie weke elk word gekondenseer in een storie wat oor ‘n paar dae afspeel. Hier en daar het ek ‘n bietjie aangedik.)

Na rooktyd, omtrent tienuur, gaan sit ons weer in die TV-kamer en wag. Ons word een-een geroep om te gaan pille drink. Nou sit ons en kyk heruitsendings van sepies tot middag-ete. Laasweek was ons gelukkig, toe is die toetskrieket uitgesaai. Almal volg elke bal, elke hou, elke vangskoot. Die kleurlinge en wit ouens het almal kommentaar te lewer gehad oor die krieket. Twaalfuur is middag-ete. Hoenderdytjie, groente, rys, ’n botteltjie vrugtesap en ’n vrug. En elke dag kry ons jellie met vla, ’n lekker groot bak daarvan! Na middag-ete, kan ons weer gaan rook! Ons bly hierdie keer net omtrent vyftien minute buite.

Die kamers word nou vir die eerste keer oopgesluit van sesuur vanoggend af. Almal moet gaan lê, al is jy nie moeg nie. Meeste van die ouens gesels, enkeles lees. Twee-uur word ons weer opgejaag. Die middag se program begin nou. Meeste van die ouens is betrokke by die middagprogram, hulle doen “occupational therapy”, maar almal praat van OT. Ander middae is daar weer groepsessies saam met die psigoloë. Omdat ek hier is vir observasie, is ek nie deel van die program nie. Ek en nog twee of drie ouens moet nou weer in die sitkamer gaan sit. Ons kyk maar weer heruitsendings van sepies.

Vandag word iemand opgeneem. Ons sit en kyk na die verslae outjie wat lyk of hy in trane wil uitbars. Hy sal nog leer, hier word emosies nie geduld nie! Hy antwoord in enkelwoorde op die vrae wat die staf vra terwyl sy leer oopgemaak word. Hy het geweet hy kom hiernatoe, so hy’t ’n sak gepak. Alles word deursoek. Klere, selfoon, MP3-speler en skeermes word afgevat en toegesluit. Hy hou darem sy onderklere en toiletsakkie. Daar is ’n klomp lekkergoed, koeldrank, en tjips in sy sak wat hy mag hou. Raai wie is die gewildste persoon in díé plek vanaand!

Halfvier kom die res terug van hulle program af. Nou kry ons elkeen twee koekies, ’n botteltjie sap en ’n vrug. Die ouens wat agtergebly het, is nuuskierig om te weet wat die res gedoen het. Eenkeer het hulle muffins gebak, en nie vir ons teruggebring nie, die bliksems! Die nuwe ou loop deur onder die vrae. Waarvoor is hy hier? Dagga. Watse “section” is hy? Hy weet nie, so die sections word verduidelik. (Section 27 is iemand wat himself inteken. Hy kan enige tyd self besluit om huis toe te gaan, maar so iemand word gewoonlik omgepraat om te bly. As iemand anders jou kom inteken, is jy section 29. Net die person wat jou ingeteken het, mag jou weer uitteken. Ek is section 29, en die person wat my ingeteken het, is met vakansie, so ek weet nie hoe lank ek nóg hier moet bly nie. Section 32 is die ergste. Dan is jy deur die hof hiernatoe gestuur. Net die psigiater aan die hoof van die afdeling kan besluit wanneer jy huis toe gaan.) Sy ma het hom ingeteken, en sy sal hom nie uitteken nie, so hy moet sit tot sy program klaar is.

Aandete om sesuur is dieselfde as middag-ete, maar ons kry nie poeding nie. Daarna die laaste rooktyd vir die dag. Die dag is lank, en die rook min! Na rooktyd moet ons weer gaan sit. Seweuur is skofruiling. Dieselfde prosedure as in die oggend word gevolg. Na skofruiling word ons weer geroep vir pomp. Ons kyk nuus in een of ander swart taal. Die kleurlinge en wit ouens het opstandig begin raak hieroor, nou mag ons elke Dinsdag Afrikaanse nuus kyk, en die Afrikaanse storie wat daarop volg. Die swart ouens is baie ongelukkig hieroor, maar die staf is aan ons kant. “Fair’s fair.” Ons maak immers ’n derde van die pasiënte uit.

Die heeldag gesit maak my rug seer. Ek het ’n rugprobleem, my rug raak vining seer. Ek loop op-en-af in die gang. Maar soms mag ek nie, dan wil die sekuriteitsman sy gewig rondgooi. “Why don’t you sit down with the other patients? Are you anti-social?” Maak nie saak wat ek antwoord nie, dis wat hy die volgende oggend by skofruiling sê. Agtuur kry ons weer twee snye brood en koffie. Nege-uur kry ons pille, en die kamers word oopgesluit. Meeste van die ouens gaan kamer toe. Tienuur is ligte-uit. Al die vertrekke het sulke pers ligte in, blykbaar vir TB, wat dit moeilik maak om te slap. Een ou in my kamer slaap kaal. hy word geskel daaroor, maar hy gaan voort. Nêrens is daar privaatheid nie. Daar is oral, behalwe in die badkamers, kameras, wat ook in die donker kan sien. As jy in die nag badkamer toe gaan, is daar vining een van die staf by om seker te maak jy rook nie. En so is nog ’n dag in die hel verby.

Maandae is die dag heeltemal anders, dan kom sien die multi-span ons. Die psigiater, dokters, psigoloë, maatskaplike werkers en verpleegpersoneel verbonde aan die afdeling, voer met elke pasiënt ’n onderhoud, en gee ook geleentheid vir vrae. Die rooktyd na ontbyt word ingekort, en almal moet in die eetsaal gaan sit. Iemand het ’n pak kaarte, ’n verweerde Monopoly-stel word tevoorskyn gebring en ander lees. Een-een word ons ingeroep. Sommige van die ouens is vining klaar, ander vat weer langer. UIteindelik word my naam geroep!

Die psigiater sit reg onder die TV, met die res van die multi-span aan weerskante. Jou diagnose word bespreek, asook jou vordering. Die een maatskaplike werker praat verskriklik sag, ek moet haar elke week ’n paar keer vra om harder te praat. Eers met my derde sessie, ek was dus amper drie weke daar, is my diagnose formeel aan my bekend gemaak. Voor dit is daar elke keer vir my gesê ek is nog onder observasie, met sekere aspekte van my diagnose wat nog nie seker is nie. Om eindelik te hoor wat my diagnose is, was ’n verligting, en ’n skok. Dit kan nie waar wees nie! Julle is verkeerd! Maar ek moet die uitslag aanvaar. Ek is deur verskeie toetse, onder andere bloedtoetse die dag way ek opgeneem is, ’n EEG en ’n PET-scan (Positron Emitting Tomography, ’n verfyning van die CAT-scan). Ek het verskeie dokters gesien, twee psigoloë en die psigiater. Wat die diagnose behels, word baie noukeurig met my bespreek. Ja, ek sal sekere aanpassings in my leefstyl moet maak. Ja, daar is geweldige onkundigheid, en gevolglik stigma’s, oor my siekte. Ja, ek kan ’n “normale lewe” hê, met sekere beperkings. En die beste nuus van alles? Ek kan Woensdag huistoe gaan!