Om honger te wees

Geagte Anoniem

Weet jy wat dit is om honger te wees? Ek praat nie hier van ʼn honger vir kos, of ʼn honger na kennis nie. Nee, wat ek hier bedoel, is dit wat iemand op sosiale media van gepraat het as velhonger, lyfhonger. ʼn Dringende, dwingende, knagende, verterende begeerte om iemand te hê om vas te hou, en om vasgehou te word. Ek het hierdie afgelope paar maande so ʼn honger, en dit druis in teen ʼn groot deel van wie en wat ek is. Jy verstaan nie? Laat ek verduidelik.

In my vorige brief aan jou, het ek ʼn hoekie van die sluier gelig oor my emosionele lewe, of wat sommige amper tereg kan noem my gebrek aan ʼn emosionele lewe. Wat baie nou hierby aansluit, en as ek nou daaraan dink, ʼn bydraende faktor daartoe is, is die feit dat ek fisiese persoonlike kontak sover moontlik probeer vermy. Sulke kontak is vir my ongemaklik, en soms vul dit my met afsku. In ons huidige samelewing waar dit normaal is dat mans en vroue mekaar met ʼn drukkie groet, verstaan bitter min mense dat ek nie daarvan hou nie, en ek het al ʼn keer of wat in baie ernstige moeilikheid gekom daaroor.

Ek het nog altyd gewonder daaroor, waar dit vandaan kom, hoekom ek skielik, min of meer aan die begin van my hoërskoolloopbaan, hierdie tipe kontak begin vermy het. Ek het die afgelope tyd al meer en meer begin besef hoekom dit so is, maar ek moet nog tot volle sekerheid kom. Dalk skryf ek ʼn volgende keer daaroor.

Waar alles bymekaar kom, is die feit dat ek die afgelope tyd velhonger is. Ek wil iemand hê om vas te hou en ek wil vasgehou word. Maar om die twee bymekaar te bring, ʼn brandende begeerte vir iets waarin ek ʼn afsku het, is moeilik. Ek verstaan dit self nie heeltemal nie.

Maar die eerste keer wat ek jou gesien het, of dalk was dit die tweede keer, het ek gevoel ek kliek met jou. Soos ek vantevore genoem het, is ek nie regtig goed daarin om agter te kom wat ander mense se emosies is nie. Voor ek voortgaan, voor jy my dalk daarvan beskuldig dat ek in clichés praat moet ek net noem dat ʼn cliché ʼn cliché geword het omdat dit ʼn element van die waarheid bevat. Omdat ek nie gemaklik is met emosie nie, en nog minder weet om dit te verwoord, gaan ek vir ʼn verandering onoorspronklik moet wees en ander mense se woorde moet gebruik. Die kurwe van jou glimlag laat my kop tussen stasies vashaak soos ʼn outydse kortgolfradio. Die verswelgende onpeilbare poele in jou oë maak my sprakeloos.

Maar elke greintjie van my gesonde verstand en logika skree van die kranse dat dit wat hier binne-in my aan’t gebeur is, nie kan, en nog minder, mag wees. My lyfhonger is nie gemik op ʼn verdoeselde, vae drogbeeld nie, maar het om een of ander rede besluit om op jou te mik. En dit mag nie. Ons agtergronde verskil hemelsbreed, en ons oortuigings dalk nog meer. Ons lewensuitkyk is anders, ons het verskillende belangstellings, maar logika en rede wil maar net nie deurdring nie.

Dalk voel jy in die gesig gevat dat ek dit so in die openbaar sê. Dalk voel jy gevly daardeur. Maar ek weet ek doen dit juis so, om uiting te gee aan die Ingelse uitdrukking plausible deniability. Deur dit op hierdie manier te sê, sê ek dit maar ek sê dit ook nie. Ek hoop jy verstaan.

Vriendelike groete

Ek

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s