Angs en nood

Vandag, ʼn jaar gelede, het ek die operasie aan my elmboog gehad. Dit was een van die angstigste dae wat ek in my lewe beleef het, en ek het teen hierdie tyd al baie daarvan gehad. Maar laat ek by die begin begin.
Hier in Januarie, Februarie verlede jaar, dis nou 2018, het my elmboog so skielik ʼn knop begin staan. Dit was nie seer, of rooi, of selfs net gevoelig nie. En omdat daar niks ooglopend fout is nie, het ek maar bloot aangegaan asof niks makeer nie. Tot die Dinsdag toe, dis nou ʼn jaar en ʼn dag gelede. Ek staan op dié môre, toe staan die elmboog dóér. En seer. En bloedrooi met so gelerige punt soos ʼn blinde puisie. En jy hoef net skeef daarna te kyk, dan ontplof die allerverskrikliklikliklikste pyn so regdeur die arm, van Langeraat se punt tot so skuins bokant die kieliebak. Toe gaan ek nou maar dokter toe, met die hoop dat sy darem medikasie voorskryf wat my ou mediesie sal betaal, want sien, so paar dae voor pydy het die bank mos nie meer geld nie. Maar sy skryf toe nou voor wat ek eers ʼn paar dae later kan bekostig en sê ek moenie eens ʼn afspraak maak die Woensdag nie, as die ding sleg lyk, moet ek haar kom sien. En ek gaan koop my medikasie met ʼn geleende kredietkaart.
En die Woensdag word ek sommer wakker van die seer. En die dokter kom nog uit haar spreekkamer uit na die vorige pasiënt, maar dit lyk of sy in ʼn geweerloop inloop soos sy botstil gaan staan en kyk hoe groot haar oë kan oopgaan. En sy gaan roep die nurse en nog ʼn dokter en hulle gaan staan soos ʼn laerskool rugbyspan halftyd in ʼn bondeltjie. En sy sê vir die assistent “Moenie opteken dat Meneer hier was nie, die medies gaan hom hard slaan, En, uhm, meneer, die beste sal maar wees om direk Emergency toe te gaan.”
En so is ek huis toe, pak my tassie en wag vir iemand wat tyd het om my hospitaal toe te vat. En my innerlikste binnenste trek alles so op ʼn knop saam lat die res van my hol word en ek wag. Drie-uur by Ongevalle moet ek ook wag, “Iemand sal nou by Meneer wees.” En ek het gedink ek het al my voorbereiding gedoen, als is reg, ek sal sommer nou-nou reg wees en weet wat aangaan. En die dametjie kom en neem my bloeddruk, suiker, suur en ʼn allemintige monster, want dit was juis die tyd van die dag wat ek gewoonlik kamerverlaat. En ek wag. Intussen kom iemand met ʼn lêer om my besonderhede te vat. Naam, Adres, Medies, ID-nommer, die werke. Ook chroniese medikasie. Chroniese medikasie. Nou hoekom de ongeluk het ek nie dááraan gedink nie? Ek weet mos ek drink handevol pille met die vreeslikste name onder die son. En ek sit hier alleen in die hospitaal, die persoon wat my kom aflaai het, het ʼn ander afspraak ook gehad.
Hier by vieruur vat hulle my na so hokkie toe met ʼn gordyn, “Dokter sal nou hier wees.” En dié dokter loop ook in ʼn geweerloop vas, en sy sê so paar woorde wat eerder om die braaivleisvuur hoort as in ʼn hospitaal, suiwerste Afrikaans wat ek nóg ʼn Engelse dokter met ʼn Portugaanse van hoor praat het. Eerste ding wat sy doen is sy wil nog ʼn monster neem. Nee, nie só monster nie, sy wil ʼn naald (ʼn DONNERSE NAALD!) in my elmboog indruk. Hoekom, weet ek nie, sy kan mos sien die dêm ding is nie lekker nie! “Sit net hierso, Meneer won’t even feel the needle going in.” Ek ken mos my lyf en naalde beter as dit, ek sê vir haar ek LÊ op die bed, “hier is nie genoeg van julle om my van die vloer af op te tel nie.” Terwyl ek nog by my sinne kom na die uit-pass van die naald, kom daar ʼn dametjie in wat wéér al my besonderhede wil. En so tussen alles wil die dokter net “a small cut” maak om die druk te verlig, iemand wil nóg ʼn vorm kom invul, ek gaan aan’t bewe oorlat ek paniekerig raak en iemand help my om die diaken te bel om te help om die medikasie uit te sorteer. Gelukkig kon ons die medikasie na ʼn groot gesukkel uitgesorteer kry.
En ek is alleen, alles gebeur hier rondom my, ek weet daar is mense, en gesigte en vrae en ek wil net soos ʼn klein seuntjie in ʼn bolletjie rol en vir die wêreld wegkruip en snot-en-trane huil. Maar ek kan nie, ek is mos nou al mooi groot. Skielik is alles rustig om my. Iemand is weg na die laboratorium met die monster, en iemand het die liasseerders en rekenmeesters baie opgewonde gaan maak, en ek wag.
En ek is alleen. Die doktertjie kom sit hier langs my. “Waar is Meneer se people? Aren’t they concerned?” Ja, hulle is bekommerd, maar ek sien werklik nie kans om iemand te bel en te vra om hulle bedrywighede te staak om net so bietjie by my te kom sit nie. Wie is ék nou om so inbreuk te maak op hul lewens? Hierdie word geensins sarkasties of lelik bedoel nie, die lewe gaan aan. En sy vat so my skouer en vra of sy kan bid. Wat sy gebid het, weet ek nie, maar ek het so klein bietjie rustiger geraak. En sy praat my moed in, sê alles gaan orraait wees, die sjirurg maak net gou klaar in die teater dan sal sy kom kyk.
Skielik is daar weer ʼn geskarrel. Ek moet in ʼn rolstoel, ek moet nóú gaan vir ʼn sonar. Ek bied aan om te loop, want die dametjie wat die rolstoel bestuur is maar klein en ek baie mínder klein, en sy druk my terug in die rolstoel en sê “hospital rules” sê ek moet met die rolstoel gaan. So toe gaan ek maar met die rolstoel.
En wragtig! by die sonar kamer wil hulle wéér presies dieselfde vorms invul! Nou ek het mos al die goed ingevul en gedikteer vir die wat invul, op een stadium sommer so drie gelyk wat my met die vrae toetakel. Maar nee, elke afdeling het hulle eie vorms, sover ek kan aflei is dit net die volgorde van die vrae wat verskil. En daai jel wat hulle opsmeer om die sonarmasjientjie te maak is mos so yskoud, en toe sy met die dingetjie aan die elmboog raak klim ek amper deur die dak. En sy fluit so, en prewel iets so binnensmonds wat amper klink soos “Hier is groot moles”, behalwe dat sy ʼn K-woord gebruik het in stede van “moles”. En net daar onthou ek, ek het nie ʼn Bybel ingepak nie.
Alleen terug by ongevalle, omstreeks so halfsewe kom die sjirurg in gebons soos ʼn wafferse Gummi Bear, en sonder om in ʼn geweerloop vas te kyk haak sy af “Daai ding is VROT! Wanneer laas het jy geëet?” Want sien, so in die harwar van vroeër het die dokter twee keer met haar pen ʼn sirkel getrek om die rooi op my arm. En jy kan baie duidelik sien dat die inksirkels groter word, en dat die rooi verby die laaste een is.
Kyk, in my ervaring is daar net één geleentheid wanneer iemand by ʼn hospitaal wil weet wanneer jy laas geëet het, en dis as hulle jou narkose wil gee. My raaiskoot was ʼn kolskoot, ons moes net wag vir ʼn teater en narkotiseur om beskikbaar te kom. My Faceboek-inskrywing so skuins voor sewe was “Op pad teater toe. Ortopediese sjirurg klink opgewonde om te sny. Ek is bang.” En ek onthou nou so half deur ʼn dwaal dat die Engelse dokter met die Portugaanse van wéér langs my kom sit het om my moed in te praat. Maar ek kan verkeerd wees. Wat ek wel duidelik onthou is dat hulle my so paar minute privaat gegee om die hospitaalgewaad aan te trek, daai een wat jou so met jou agterstewe teen die muur laat loop om nou nie die hele wêreld te moon nie.
Omstreeks agtuur word ek, nuwe bed en al, deur die hospitaal gestoot. Ek onthou nog dat daar ʼn TV in die nuwe vertrek was, maar dit was af, met net ʼn horlosie teen die muur. Nou kyk, gewoonlik is ek elke vyf minute op my foon of horlosie om seker te maak van die tyd, maar wanneer jy alleen is en ʼn horlosie ál is wat jy het om voor te kyk, begin jy daai ding haat. En terwyl ek nog die horlosie so met afsku begluur kom die narkotiseur, en hy wil ook alles weet, en ek ken teen die tyd al die rympie. “Hoe lank is Meneer? Hoeveel weeg Meneer?” Hoe de ongeluk moet ek dít nou weet? En intussen kruip die klein, bang seuntjie binne-in my al dieper in sy bondeltjie, en die holgeit word al groter.
Weereens is dit net en my gedagtes toe dit weer so paar minute voor nege begin skarrel. Tjoeps! in die teater in, oorgetel op ʼn ander bed, vasgestrap en wag. En daar, vir die tweede keer in my lewe, kry hulle nie ʼn aar nie. Gewoonlik staan die are op my arm so tou om geprik te word, ek vermoed hulle het saam met die alleen-seuntjie gaan wegkruip. En hulle druk so masker op my gesig. Die volgende wat ek onthou is dat ek ʼn toebroodjie geëet het, met mense om die bed, en daarna eers weer die volgende middag.
Stuur groete van huis tot huis.