‘n Warboel gedagtes…

Hiermee my eerste, tentatiewe treë in die wêreld van die blog. Waar om te begin? Waaroor om te skryf? Hoe hou ek dit vars, relevant, interresant? Ek hoop dat jy, die leser, saam met my hierdie paadjie sal stap, en nie, soos ek in alle waarskynlikheid gaan maak, moed opgee na die eerste paar pogings nie. Maar ons laat dit daar.

Ek het onlangs, na ‘n baie lang tyd, weer begin dig. Dit gaan maar nog moeilik, met net sporadies ‘n paar gedagtes wat hulself op papier wil laat neerpen. Ek sukkel om inspirasie te vind, of eerder, ek sukkel om te skryf wat in my kop aangaan. Dinge is so deurmekaar hierbinne, weerstaan alle pogings tot ordening. Inspirasie is daar genoeg, met iemand waarvoor ek baie omgee wat verloof geraak het, en die jong dames wat ek graag beter wil leer ken, ‘n heimweë na vervloë dae, ‘n toekoms wat onseker is.

Oor die jong dames, let die volgende wel: Ek wil hulle nie noodwendig beter leer ken met die oog op ‘n romantiese verhouding (ek twyfel in elk geval sterk oor die romantiek) nie, maar wel omdat ek al gevind het dat ‘n man ‘n vriendin in sy lewe nodig het. Jy praat tog ander dinge met ‘n vriendin as met ‘n vriend, en ‘n vriendin gee net ‘n ander perspektief op die emosies en gevoelens wat ‘n man beleef (ja, mans beleef ook van tyd tot tyd emosies!)

Maar om terug te kom by die skrywery. EK hou van dig, en die kommentaar wat ek tot dusver op my pogings gekry het, was oor die algemeen goed. Dit het my laat besluit om te probeer om al my oorblywende gedigte (‘n klomp is lank terug verbrand, maar dis ‘n ander storie) in elektroniese formaat om te skakel. Dit gaan ook swaar, want elke gedig bring herinneringe terug wat nie altyd welkom is nie. Ook gaan dit swaar, want ek sukkel om gemotiveerd te bly daarvoor, ek vind elke aand ‘n ander verskoning om dit nie te doen nie. Kortom, ek’s pleinweg lui.

Maar ek sien nou ek het al baie getik sonder om veel te sê, so hiermee sluit ek af: In enige verhouding is daar kompromieë, gee en neem. Moet net nooit ‘n kompromis aangaan oor geloof nie!

Groete van huis tot huis

Advertisements