Die maand van die liefde?

Februarie. In die oë van die wêreld is dit die maand van die liefde. Maar is dit werklik so?

Stap by amper enige klerewinkel in oor die volgende twee weke, en jy word gebombardeer met advertensies vir witwarm damesonderklere (ook beskikbaar in rooi en swart.) SKryfbehoeftewinkels verkoop koppies, kaartjies en potlode vol rooi hartjies. Sommige kettingwinkels verkoop spesiaal-verpakte sjokolade in die vorm van harte. Waarom?

Toe ek jonger was, het ons net drie ‘spesiale’ dae gehad: Valentynsdag, Moedersdag en Vadersdag. Dit het meer geword, sodat daar vandag ‘n Onderwysersdag, Sekretaressedag, selfs ‘n Basedag, onder andere, is. Één dag in die jaar waarop jy vir ‘n spesifieke persoon kan wys wat beteken hy of sy in jou lewe.

Maar is dit reg? Is jy nie elke dag veronderstel om vir jou geliefde, jou ouers, en almal wat ‘n belangrike rol speel in jou lewe, te wys wat hulle vir jou beteken nie? Hoekom één dag in die jaar daarvoor uitsonder?

Maar om terug te kom by Valentynsdag. Hoekom wil jy ‘n dag vier wat nie spesiaal in jou verhouding is nie? Daar is sekerlik ander spesiale dae in jou verhouding? Ek dink maar aan herdenkings en verjaardae. Maar moenie wag vir ‘n spesiale dag om te wys jy gee om nie. En probeer iets spesiaal doen, moenie net blomme of sjokolade koop nie. Maak ‘n lekker ete, gaan hou piekniek in die parkie, maak ontbyt in die bed. Hiermee wil ek glad nie die gee van blomme en sjokolade afskiet nie, dit is ook belangrik. Maar moenie dat dit die enigste uiting wees van jou omgee vir jou verhoudingsmaat nie.

En terug by die winkels. Meeste van die aanbiedinge is gemik op sintuiglike genot. Maar is ‘n gesonde verhouding suiwer gefokus op die sintuiglike? Nee. Daar is ook ‘n behoefte aan emosionele bevrediging. Luister as die ander een praat. Geestelik saam groei. Bloot ‘n tydjie afknyp waar julle saam kan wees, sonder om te praat.

Ek laat julle met die oorspronklike vraag: is dit wat die wêreld hierdie maand propageer, werklik liefde?

Groete van huis tot huis.

Advertisements