De morte et moriens

Nog nie eens dertig nie, en hier sit ek en dink aan my eie dood. Nou sal jy vergewe word as jy dink ek is morbied, of depressief, of iets dergeliks. Maar dit is nie die geval nie. Ek het baie lanklaas so goed gevoel, al is die toekoms nog baie onseker. Maar laat ek verduidelik waar kom alles vandaan.

In die afgelope jaar of wat, is my familie deur ’n moeilike tyd, medies gesproke. Daar is die hoërskoolniggie wie se voet net nie wil gesond word nie, die misterieuse ineenstorting op ’n familiekamp, ernstige geestesgesondheidsprobleme, die lensvervanging, die harte wat net nie reg wil klop nie… Dan is ek self ’n paar jaar terug gediagnoseer met ’n vloek van ’n geestesversteuring, waarvan die verwante toestande skrikwekkend is. My medikasie verlig die simptome, maar het ook moontlike newe-effekte wat eers na ’n paar jaar manifesteer. Dan rook ek, was tot redelik onlangs ’n strawwe drinker, het cholesterol-probleme, eet ongesond, kry min oefening, en so gaan die lysie aan. En om dan nog nie eens te dink aan ’n ouma en ’n oupa wat oorlede is aan kanker, my ma wat op ’n relatief jong ouderdom al ’n paar beroertes gehad het nie, my pa wat ’n diabeet is met hoë bloedruk ensomeer ensovoorts en in deser voege verder nie…

Dit alles is rede tot kommer vir enige regdenkende mens, maar dit is nie wat my pla op die oomblik nie. My grootste wroeging van die laaste tyd is of my verhouding met God reg is. Nou kyk, dit is so dat ek al die katkisasie-antwoorde kan gee, met ’n paar modules se theologies-filosofiese “kennis” daarby, goed gegeur deur laataand braaivleisvuur gesprekke om dit mee af te rond. Maar dit is alles kopsake. My wroeging is meer persoonlik, ’n hartsaak as mens dit so kan noem. Is ek reg om te gaan? Is my saak reg? Ek weet ek bid en lees nie so gereeld Bybel as wat as ideal voorgehou word nie (al woon ek gereeld ’n Bybelstudie by, en lei ek ’n ander Bybelstudie), ek weet my lewe is nie heeltemal onskuldig as wat ek voorgee nie.

Maar dis die hele punt. God bemoei hom met mense soos ek, probleemgevalle, sou mens amper kon sê. Mense wie se saak amper, maar nie heeltemal nie, reg is. Al is my worsteling tot dusver privaat het ek al met ‘n paar mense daaroor gepraat. Oor aspekte daarvan, maar nie alles nie. Ek het in verlede week tot die besef gekom dat my saak nooit heeltemal reg sal wees nie, dat daar altyd ruimte vir verbetering gaan wees. Verlede jaar het ek met die dominee gaan gesels wat ek graag wil hê moet my eendag begrawe, as die gebeurtenis nie t ever in die toekoms lê nie, gepraat oor die teks wat ek graag sou wou hê hy moet lees (Openbaring 21: 4), maar ek moet nog dink wat gesing gaan word (miskien Psalm 122, 1936-beryming.) Ek wil graag ‘n eenvoudige begrafnis hê, niks fancy nie. En ook nie ’n onnodige gegrensery nie. Trane is onafwendbaar op ’n begrafnis, ek gee toe, maar daar is ’n fyn lyn na die buitensporige. En ek wil begrawe word, nie veras nie, weens persoonlike redes.

Soos ek aan die begin gesê het, mag hierdie dalk morbied klink, maar ek glo dat mens gereed moet wees. Nie alles oorlos aan emosiebelaaide mense wat nie altyd seker is waar om te vat en waar om te los nie. En soos e kook gesê het, voel ek die laaste tyd baie goed oor die lewe. Dalk is die kombinasie van my medikasie uiteindelik reg.

Groete van huis tot huis.

Advertisements