Geagte Anoniem: ʼn Brief

Geagte Anoniem

Dinge het verander. Iewers het iets tussen ons gebeur wat alles deurmekaar gekrap het, maar ek kan nie my vinger daarop plaas nie. Daar is ʼn stramheid tussen ons, wat nooit daar was nie. Daar was, sover ek weet, nooit ʼn spark tussen ons nie. Dalk was daar en ek het dit nooit gesien nie. Al wat ek weet, is dat die spontaneïteit wat daar vroeër was, nie meer daar is nie. Al wat ek wens, is dat dit wat daar was, weer hier kan wees. Niks meer nie, maar niks minder nie.

Dalk moet ek begin met ʼn klein stukkie, ʼn baie klein stukkie, van wie ek is. Sover ek kan onthou, was daar maar altyd ʼn donkerheid om my. Soms bloot net ʼn vlietende skadu, maar daar, nietemin. Ek was nog altyd ernstig, met ʼn glimlag so diep weggesteek, dat mense getwyfel het of dit moontlik nog bestaan. Lag kon ek nog altyd, maar lag is makliker om te fake as ʼn glimlag. Die wêreld, ten minste die wat my ken, weet dat ek ʼn besondere lag het, ʼn lag wat mense bybly, ʼn lag wat sê alles is oukei, ʼn lag wat al is wat mense van my onthou. Maar ʼn lag is maklik, meganies gesproke. ʼn Glimlag egter, wys wat op daardie oomblik diep binne-in jou aangaan.

Miskien is dit die probleem. Emosies. Toe ek jonger was, na liggaam én siel, was ek passievol. Woede-uitbarstings is gevolg deur jolyt, vir die hele wêreld om te sien. Vir sommige mense is dít wat hulle onthou, mood swings so onvoorspelbaar as die see, mood swings wat ek nie die minste moeite gedoen het om te verdoesel nie. Maar ook dit het verander. Omtrent tien jaar terug, dalk meer, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat emosies nie betroubaar is nie. Ek het begin om meer rasioneel op tree, alles in my lewe logies in te rig. Dit mag dalk nie vir ander mense na logika lyk nie, maar vir my is dit.

Iets wat ek dalk intussen moet noem, voor die narratief aangaan, is die één aspek van my lewe waaroor ek sonder twyfel spyt is, en die bangste voor is. Ek het as tiener en jongman mense seergemaak. Mense wat nader aan my wou kom, het ek versigtig ingekatrol, en sodra hulle by die oewer kom, verwerp. Weggestoot. Gegryp en sover weggewerp as wat ek kon. En dit was vir my lekker. Min dinge het my soveel plesier gegee.. Ek mag verkeerd wees, ek hoop van harte ek is verkeerd, maar het ek dit nie dalk onbewus, in ʼn refleksreaksie, met jou gedoen nie?

Redelik aan die begin van my studentelewe het dinge in my lewe begin gebeur. Vreemde dinge. Ek het ʼn fisiese besering opgedoen waarvan ek vandag nog las het. ʼn Donker tyd in my lewe, amper die donkerste waardeur ek tot dusver is. Maar selfs in daardie tyd was daar lig. Iemand het omgegee vir my, omgee soos ek vantevore, en selfs daarna, maar bitter selde deurgegaan. Jy moet verstaan, wanneer jy verdrink en iemand ruk jou uit, sien jy dinge wat nie daar is nie. Ek het my emosies, wat ek teen daardie tyd al goed kon onderdruk, vrye teuels gegee. Teen my instink, teen alle rede en logika in, het ek begin omgee. My emosies blootgestel, en terselfdertyd myself aan my emosies blootgestel. Dinge het gebeur wat na regte nie veronderstel was om te gebeur nie. Ten minste twee mense is swaar gewond in daardie tyd, met ek weet nie hoeveel collateral damage nie.

Ek het meer teruggetrokke geword. Mense het al meer en meer vir begin sê dat ek die lewe nie so ernstig moet opneem nie. Maar ek kon nie. Die één keer wat ek minder ernstig was, het ek seergekry. Sleg seergekry. Party dae knaag daardie wonde nou nog aan my. Emosie het nou geen plek in my lewe meer gehad nie. Of laat ek liewer so sê: Emosie het ʼn bitter baie klein plek gehad. Daar was tog een of twee mense wat dit nou en dan gesien het.

En ʼn jaar of wat later gebeur dit weer. ʼn Jong dame wie se paadjie vir ʼn kort tydjie langs myne geloop het. Weer emosie. Maar hierdie keer was ek versigtiger. Dinge kans gegee om te ontwikkel. Miskien, het ek gehoop, sal sy my uit daardie kluis kon kry. Meer verkeerd kon ek nie wees nie. Toe ek my kom kry, is ek besig om hierdie onskuldige, naïewe, amper plattelandse jong dame seer te maak sonder dat een van ons besef wat gaan aan, seerder as wat ek iemand nog ooit gemaak het. En op ʼn manier was dit vir my lekkerder as al die vorige kere.

En van toe af is ek nog versigtiger vir emosie. Die bietjie wat ek my gegun het, baie versigtig opgesluit. Nou en dan bars dit uit, meestal in my binnekamer, maar so dan en wan in die openbaar. Maar ek is nie meer skaam daaroor nie. As jy nie hartverskeurend vir ʼn goeie vriend kan totsiens nie, dan is jy nie meer mens nie, maar outomaton.

Die nag wat ek daarna ingegaan, bewandel ek nogsteeds, met die dagbreek wat ek nie verwag om binne die volgende paar jaar te sien nie. Mar daar is ʼn Lig vir my voete, ʼn Lig wat die diepste nag in dag verander. Ek weet dit is nog nag, ek sien die maan en die sterre daarbuite, maar in hierdie nag is daar vir my geen verskrikking nie. Maar die storie van die nag in en om my, wil ek nie in hierdie brief bespreek nie. Dalk, eendag wanneer ons op die ouetehuis se stoep sit, sal ek jou daarvan vertel.

Miskien is dit die rede hoekom ek nie altyd alles om my raaksien nie. Ek ken nie meer regtig meer emosie nie. Iemand het eenmaal vir my gesê dat ek emosie nie vertrou nie omdat ek dit nie logies kan uitredeneer nie. Ek wil my ervarings verstaan, nie voel nie. Maar emosie werk die teenoorgestelde. Hoe minder jy dit probeer uitredeneer, hoe meer jy dit voel, hoe meer verstaan jy dit. En dis nie hoe my kop op hierdie stadium werk nie. Dalk is dit omdat ek nie emosie in my eie lewe verstaan nie, dat ek nie ander se motiewe, in soverre dit gedryf word deur emosie, kan raaksien of verstaan nie. Onthou jy die spark waarvan ek vroeër gepraat het? As daar een was, het ek dit heel waarskynlik hierom misgekyk.

My liewe Anoniem, ek weet nie hoekom ek hierdie brief vir jou skryf nie. Hier is soveel meer as wat ek gedink het gaan uitkom. Dalk kan ek gemaklik hieroor aan jou skryf, met jou daaroor praat, omdat jy gesigloos, naamloos is. Dat jy werklik is, staan egter bo twyfel. Wie weet, dalk skryf ek anderdag weer vir jou.

Vriendelike groete

Ek

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s